Laerskool Burgersdorp

Derde Kwartaal program 2015

SPORT:
Saterdag 25 Julie teen Middelburg Tuis
Saterdag 1 Augustus teen Hangklip (WEG)
VRYDAG 7 Aug – SONDAG 9 Aug: RUGBYTOER na Oos-Londen
Saterdag 15 Aug: INTERSKOLE tuis
Saterdag 22 Aug: St. Michaels Hokkie Festival (O/7 – O/13)
Donderdag 3 Sept: Tennis teen ALIWAL (weg)
Maandag 7 Sept: Tennis teen HANGKLIP (weg)

Maandag 27 Jul: EISTEDDFOD Inskrywings eindig (R12,00 per item, bv. gedig)
Woensdag 12 Aug: Wiskunde Olimpiade Gr 1 – 7
Vrydag 14 Aug: Afrikaanse Olimpiade Gr 1 – 3
Maandag 24 Aug – Vrydag 28 Aug: EISTEDDFOD
Gr. 7 – TOER
Dinsdag 15 Sept tpt Vrydag 18 Sept: ANA-EKSAMEN

 

Word deel van BLIKKIES se opwindende nuwe projek!

 

Die dinge is omtrent aan die roer by Hoër-& Laerskool Burgersdorp. Daar is ‘n algemene opgewondenheid oor al die nuwe projekte onder leiding van ons nuutverkose Beheerliggame.

Een van dié projekte, soos u dalk reeds weet, is die oprigting van ‘n nuwe heining tussen die skole en die Aliwal pad. Dit gaan die skool se aansien baie verbeter en ook help met die veiligheid van ons kinders. Almal is opgewonde om die skool in sy nuwe baadjie te sien.

Die afsonderlike pilare word verkoop aan oudskoliere, onderwysers asook aan leerlinge tans in Burgersdorp. ‘n Gesin kan ‘n pilaar koop en die name van die gesinslede kan daarop aangebring word.

‘n Diagram is beskikbaar indien daar enige voorkeure met betrekking tot spesifieke pilare is.

Die koste beloop R3 000.00 per pilaar, wat die naamplaat en gravering, soos die voorbeeld hieronder, insluit.

 

Om teleurstelling te voorkom moet inbetalings so spoedig moontlik gemaak word, aangesien slegs betaling dien as bevestiging.  (Skakel skole vir bankbesonderhede).

 

Die enigste vooskrif is dat die aantal karakters moet inpas en nie meer as 15 karakters (spasies ingesluit) per lyn en nie meer as 5 lyne nie. Leerlinge wat nog op skool is se name kan reeds aangebring word en die matriekjaar kan na die voltooiing daarvan aangebring word.  Skakel ons gerus vir enige navrae.       Blikkies Groete!  (Hoërskool 051-6531715 – Laerskool 051-6530323 gedurende skoolure.)

 

Hokkie teen Gill

Laerskool Burgersdorp het slegs 2 spanne gehad wat op 30 Mei teen Gill van Somerset-Oos gespeel het.  Die O/13A span het baie mooi saamgespeel, maar het ongelukkig 3-1 verloor.  Die O/9 spannetjie het nie teruggestaan nie en almal wou die bal in die boks slaan.  Die eindtelling was 7-1 vir die Blikkies.  Baie geluk meisies, ons is baie trots op julle!

Hokkie-fees by St. Michael’s

Op 23 Mei het Laerskool Burgersdorp 6 hokkie spanne na Bloemfontein toe geneem om deel te neem aan die hokkie-fees.  Elke span het teen 4 ander skole gespeel.  Ons skool het baie goed gedoen en die meerderheid wedstryde gelykop gespeel of gewen. Die spannetjies het baie geleer en mooi saamgespeel.  Dit was ‘n lekker dag vol opwinding en positiewe terugvoering vanaf die ouers.  Baie geluk aan al die leerlinge wat deelgeneem het.

 

Bloem toer 2015

Op 22 Mei om 10:00 het Laerskool Burgersdorp se toer begin. Die opgewondenheid was alreeds die oggend sigbaar in die leerlinge wat nog eers twee ure klas moes bywoon.   Hul kon eenvoudig net nie wag nie. En daar lui die klok, busse word gepak en daar gaan ons !

Die eerste stop was in Trompsburg.  Hier het die 0/11 rugbyspelers nog aan toer-skok gely, aangesien dit hul eerste toer was en dit  kon waargeneem word   in hul wedstryd teen Trompsburg;   dus het hulle ongelukkig die wedstryd verloor. Maar die volgende dag teen Dr. Visser het die span net weereens gewys dat hul goeie rugby kan speel, soos hul al die hele seisoen doen.

Die Netbal het ook nie op hulle laat wag nie en was glad nie afgeskrik deur Trompsburg of Dr. Visser nie,  en het al hul wedstryde op die toer gewen.  Hou maar die girls dop met Interskole!

Gedurende die toer het die 0/13 rugbyspan hul eerste wedstryd  teen Trompsburg gewen.   Met die gevoel van wen het hul le die volgende dag teen Dr. Visser weer so gemaak, en ook vir Dr. Visser gewys.

Die Vrydagaand het ons in Bloemfontein oornag.  Hier het die kinders hulle gate uit geniet en die kampterrein volg gehardloop.  Mens het amper gewonder of hul genoeg energie sal hê vir die volgende dag se wedstryde.  Die ouers het saam met ons by die kampterrein oornag, en ouers en onderwysers het lekker saam om die vuur gekuier.  Iets wat jy verseker volgende jaar self sal moet beleef.

Ons wil  dankie sê aan Mnr. Mike  vir al die reëlings wat hy getref het vir die toer, elke onderwyser wat saam is, elke busbestuurder  wat ons  vervoer het, elke ouer wat saam op die toer was, die Mammas wat gesorg het vir kos, en ons Hemelse Vader wat ons veilig bewaar het deur die hele toer.

 

NUWE HOOFLEIERS

 Tydens die laaste saalbyeenkoms van die kwartaal, is die hoofleiers vir 2015 aangekondig. 

 hoofleieres

Zanri van den Berg (onderhoofdogter), Kyla Barnard (hoofdogter), Marko Schutte (hoofseun) en Ayden van Schalkwyk (onderhoofseun).

MOTORFIETSRYERS DEEL BYBELS UIT

Die gedreun van ‘n klomp motorfietse op die skoolterrein, is nou nie juis ‘n alledaagse gebeurtenis nie! 

‘n Deel van ‘n groep van 65 motorfietsryers, die “Word Riders” (onder die vaandel van die Bybelgenootskap), het op Vrydag 27 Maart, by die skool besoek afgelê.  Hulle was vir ‘n week op ‘n roete vanaf Gauteng tot hier in ons omgewing, waar hulle ten doel gehad het om Bybels aan gr. 7’s uit te deel.

Die kinders het lekker gesing, ‘n Bybelvers sommer gou-gou met die nodige handgebare aangeleer, in groepe verdeel en met van die lede gesels en saam gebid.

Elke gr. 7-leerling is nou die trotse eienaar van ‘n nuwe Bybel, in die taal van sy keuse!

Ons bedank die Bybelgenootskap vir hierdie inisiatief.

Ps. 119:105: “U Woord is die lamp wat my die weg wys, en die lig op my pad”

motorfiets