Laerskool Burgersdorp

Eisteddfod uitslae :

Graad                    Deelgeneem                      Silwer                    Goud                     2 Goud                 3 Goud

 

4                              14                                                                           13                           1                             

5                              16                                                                           19                           9                              2

6                              13                                           3                              9                              6                              1

LAERSKOOL BURGERSDORP: PA EN SEUN RUGBYTOER

Vroeg Vrydagoggend is daar vanaf Laerskool  Burgersdorp vertrek op die pa en seun rugbytoer na Oos-Londen.   Vir die pa’s is dit ‘n naweek weg van die huis en spesiale tyd saam met hulle seuns.  Vir die seuns is dit ‘n naweek van rugby, en ook lekker ander opwindende dinge….!

Sommige seuns het meer padkos gehad as bagasie en ander se sakkies was vol skeerroom (asof hulle al oud genoeg is om te skeer!!), ekstra buisies tandepasta (asof een nie genoeg is vir 3 dae nie), en dan natuurlik die snaaksste van alles was die “insulation tape” ( in rugby gebruik mens dit maklik op jou toks, maar die seuns speel nog kaalvoet?)   Die vraag dan:  “Waarom al die ekstras?”

Oppad Oos-Londen toe is daar vinnig gestop in Queenstown, net om die magies weer vol te kry en die bene te rek.  Veilig daar aangekom, speel ons eerste teen Beachonhurst, waar almal reg is vir die wedstryd wat voorlê.   Die 0/11’s het ‘n goeie vertoning gelewer.  Hulle speel hardloop-rugby en wen die wedstryd.  

Die 0/13’s, nog vol trots van die vorige naweek se wen teen Hangklip, fokus egter nie.   Alles loop verkeerd :  vroeg in die wedstryd kry een van die voorspelers seer en moes toe met ‘n agterspeler vervang word.  Hulle verloor die wedstryd, maar leer ‘n waardevolle les:  “Geen wedstryd word gewen deur die vorige wedstryd nie.  Elke wedstryd is ‘n nuwe wedstryd op sy eie.”  So daag die manne by die kampterrein op en slaapplekke word ingedeel.  Die seuns, wat etlike oomblikke tevore so gedaan was, kry nuwe lewe en daar word die aand lekker gekuier en gebraai.  Reeds vroeg die volgende oggend is van die seuns al af see toe en hul wil net die see in, al is die son nog nie eers op nie.

Almal begin regmaak vir die groot dag.   Almal is opgewonde, want hulle speel op die “Border Bulldogs”  se rugbystadion.   Die 0/11’s is soos altyd gereed vir die wedstryd en mens kan van die begin af sien hulle gaan die ding doen.  Die 0/13’s speel teen ‘n Grens-ontwikkelingspan, maar die teenstaanders is groot!  Ons staan nie terug nie.  Ondanks die verloor van 22-10, het hulle die wedstryd met ‘die hart van ‘n leeu’ gespeel.    Enige wedstryd het maar sy beserings, en een van die spelers word met ‘n draagbaar afgedra.  Gelukkig was dit net vir voorsorg en was daar geen ernstige beserings op die toer nie.  Soos gewoonlik kry die seuns in die aand weer nuwe krag en soos jy deur die kampterrein beweeg, sien jy net tandepasta en skeerroom op die gesigte.  

En die  “insulationtape”? – as jy wil weet waarvoor dit was,  sien jou volgende jaar op die toer….

 

Laerskool Landsdiens

Die Landsdiens het die week weer hul liefde vir die natuur uitgebeeld.  Ons het Maandag ons terrein, die sloot en die ingang van die dorp skoongemaak.  Baie dankie vir elke Landsdienslid wat hard gewerk het om die morsjorse se spore te verwyder!

 

Interskole 2015

Laerskool Burgersdorp : Graad 1’s verken die dorp

Donderdag, 6 Augustus, het die Graad 1’s ‘n gemeenskapsuitstappie na die museum en die biblioteek onderneem.

Eerstens het hulle die Museum besoek en natuurlik het die diere die grootste indruk gemaak.  Ons moes hulle behoorlik daar wegskeur.  Ons moes tientalle vrae beantwoord en as die hongerpyne nie geknaag het nie, het ons nog meer tyd daar verwyl.

 

Daarna het hulle eers op die plein geëet – ‘n lekker piekniek vir die kleintjies!  Na die ete, is daar hande gewas, voordat tannie Elsie hulle ontvang het.  Daar het hulle geleer dat die biblioteek die slimste plek in die dorp is.  Tannie Elsie het vir hulle 2 stories gelees en daarna vertel hoe ‘n liniaal gebruik word om ‘n boek se “adres” oop te hou terwyl jy besluit of jy die boek wil lees of nie.  Hulle het die geleentheid gekry om die nuwe kennis te benut en self ‘n boekie uit te neem om te lees. 

Vir oulaas het ons die laaste bietjie piekniekkos geëet en die Gr 1’s het heerlik op die plein se grasperk gespeel.  Hulle het opgeruim en ons het weer skool toe gestap.

Baie dankie aan die vriendelike persone wat ons by die museum en biblioteek ontvang het. 

 

Dit was ‘n ondervinding wat die leerders nog lank sal onthou.

Jong Violiste

 

Op Maandag 17 Augustus het 4 van die Laerskool se leerders, o.l.v. Irma Davel, aan die Queenstown Eisteddfod gaan deelneem.  Die 3 viool-leerders het al drie goud behaal:    Jana Greyling, Milla de Klerk en Elné de Bruin.

 

Vir tjello ontvang Jana de Klerk goud.  Milla en Jana het ‘n duet gelewer en ontvang silwer.  Die 3 vioolmeisies, Jana, Milla en Elné het goud ontvang vir hul trio.

[Goud – bo 80%;  silwer 75%]

Baie geluk meisies, ons is baie trots op julle!

 

[Foto :  Irma Davel (Afrigter) & André Fourie (Skoolhoof Laerskool Burgersdorp) saam met leerders van Laerskool Burgersdorp en BJ de Klerk (regs agter – leerder van Hoërskool Burgersdorp]  –  foto geneem deur Antoinette.

 viole

Tjokkerland