Laerskool Burgersdorp

SOMERFEES 2015

Op Vrydag 16 Oktober om 12:00 het die hekke vir 2015 se Somerfees geopen – ‘n groot heerlikheid wat al in die voorafgaande paar dae begin het.  Die tente is opgeslaan, die “Fun Park” het begin vorm kry en dit waarvoor daar die hele jaar beplan is, kon begin!

Vroeg Vrydagmiddag was die opgewondenheid groot toe die Mej. Somerfees-uitdunne begin het.  Wentzel du Plessis, die gaskunstenaar, het hom goed van sy taak as seremoniemeester gekwyt.  Uiteindelik is die wenners aangekondig :  Mej. Sonfeëtjie : Danria de Bruin;  Mej. Sonstraaltjie : Kyla van der Walt;  Mej. Sonskyn : Charné Brits;  Mej. Somerfees :  Charné Smith.  Me Somerfees : Mimi Vermaak;  Me Persoonlikheid :  Chantel van der Linde.

Die aand is heerlike steak met bykos, nagereg en koffie aangebied.  Die OOV’s van beide skole kan baie tevrede voel met hierdie geleentheid – komplimente is van oral ontvang!

Tydens die steakete het 3 reunie-groepe ook lekker saamgekuier – al die “onthou-jy-nog”-stories is opgediep!

Vanjaar is gepoog om ‘n paar nuwe aktiwiteite in te sluit by die program – die “funrun”, 4×4 roete, skietkompetisie, “paintball”, boeresport, ens. – wat goed ondersteun is.

Al wat ‘n kind is, kon nie wag vir die Pretpark om te open nie!  Hierdie was ‘n besliste treffer by vanjaar se fees – tot die Hoër- en Laerskool personeel het op die “disco-dance” gery!

Een groot aantrekkingskrag Saterdagmiddag was verseker die Springbokke se wêreldbekerwedstryd teen Wallis op ‘n grootskerm in die feestent.  Hier was die gees en atmosfeer gelaai en almal het die Bokke “gedra” tot oorwinning!

Dan dié kans waarvoor baie gewag het – om Snotkop in lewende lywe te sien en te hoor!  En niemand is teleurgestel nie!  Hy is goed deur die skare ontvang en hyself het ook positiewe terugvoer oor sy optrede hier gehad.

BAIE BAIE DANKIE aan almal wat bygedra het om dié naweek ‘n sukses te maak – elke borg, ouer wat bereid was om te werk, almal wat die fees besoek het, almal wat deel was van die beplanning: dit verg ‘n groot spanpoging om so ‘n groot geleentheid te laat werk!