Laerskool Burgersdorp

NUWE PERSONEEL

Mnr Louis Kilian het by Laerskool Burgersdorp aangesluit as faktotum.  Baie welkom in ons midde!

Mev Berna Viljoen het ook nuut by ons aangesluit – sy sal vanaf die 2de kwartaal by mev Greeff oorneem.  Baie welkom!

 

EERSTE SKOOLDAG…

Vir 40 graad 1’s het die langverwagte dag van die “groot” skool uiteindelik aangebreek!  Splinternuwe skoene, skoolrok, hemp, broek (wat hier en daar nog bietjie groot is), hare netjies, blink ogies, het hulle “aangemeld vir diens”!

 

Daar is 23 seuns en 17 dogtertjies wat verdeel is in twee klasse – by juffrou Rozanne en juffrou Tilla.

 

Laerskool Burgersdorp heet hierdie spesiale groepie leerlinge welkom en glo dat die sewe skooljare by ons, baie gelukkig en opwindend sal wees.  Ook aan elke ouer (veral dié wat hul oudstes gebring het), welkom by ons – ons weet dat julle gou deel sal voel van die “skool-familie”!

 

Dit was ook ‘n eerste dag vir ‘n paar nuwe leerlinge wat van ander skole by ons aangesluit het.  Baie welkom ook aan hulle en hul ouers.

 

ATKV SKENK BOEKE

Die Stormberg-tak van die ATKV het, soos in 2014, weer aan die Biblioteek van Laerskool Burgersdorp, boeke geskenk.  Baie dankie vir hierdie inisiatief, dit word baie waardeer!

 

Somerfees!

  

Tennis

Tydens die Somerfees is daar ‘n tennistoernooi gehou.  Daar was 5 seunspanne en 6 meisiespanne wat deelgeneem het.  Die spelers het hulle harte uitgespeel en dit vreeslik baie geniet.  Die wenners van die toernooi was die meisies van Colesberg en die seuns van Middelburg.  Baie geluk!

SOMERFEES 2015

Op Vrydag 16 Oktober om 12:00 het die hekke vir 2015 se Somerfees geopen – ‘n groot heerlikheid wat al in die voorafgaande paar dae begin het.  Die tente is opgeslaan, die “Fun Park” het begin vorm kry en dit waarvoor daar die hele jaar beplan is, kon begin!

Vroeg Vrydagmiddag was die opgewondenheid groot toe die Mej. Somerfees-uitdunne begin het.  Wentzel du Plessis, die gaskunstenaar, het hom goed van sy taak as seremoniemeester gekwyt.  Uiteindelik is die wenners aangekondig :  Mej. Sonfeëtjie : Danria de Bruin;  Mej. Sonstraaltjie : Kyla van der Walt;  Mej. Sonskyn : Charné Brits;  Mej. Somerfees :  Charné Smith.  Me Somerfees : Mimi Vermaak;  Me Persoonlikheid :  Chantel van der Linde.

Die aand is heerlike steak met bykos, nagereg en koffie aangebied.  Die OOV’s van beide skole kan baie tevrede voel met hierdie geleentheid – komplimente is van oral ontvang!

Tydens die steakete het 3 reunie-groepe ook lekker saamgekuier – al die “onthou-jy-nog”-stories is opgediep!

Vanjaar is gepoog om ‘n paar nuwe aktiwiteite in te sluit by die program – die “funrun”, 4×4 roete, skietkompetisie, “paintball”, boeresport, ens. – wat goed ondersteun is.

Al wat ‘n kind is, kon nie wag vir die Pretpark om te open nie!  Hierdie was ‘n besliste treffer by vanjaar se fees – tot die Hoër- en Laerskool personeel het op die “disco-dance” gery!

Een groot aantrekkingskrag Saterdagmiddag was verseker die Springbokke se wêreldbekerwedstryd teen Wallis op ‘n grootskerm in die feestent.  Hier was die gees en atmosfeer gelaai en almal het die Bokke “gedra” tot oorwinning!

Dan dié kans waarvoor baie gewag het – om Snotkop in lewende lywe te sien en te hoor!  En niemand is teleurgestel nie!  Hy is goed deur die skare ontvang en hyself het ook positiewe terugvoer oor sy optrede hier gehad.

BAIE BAIE DANKIE aan almal wat bygedra het om dié naweek ‘n sukses te maak – elke borg, ouer wat bereid was om te werk, almal wat die fees besoek het, almal wat deel was van die beplanning: dit verg ‘n groot spanpoging om so ‘n groot geleentheid te laat werk!

 

Provinsiale Landsdienskamp : Hobiton-on-Hogsback

Die landsdienskamp is hierdie jaar in ‘n besondere omgewing gehou.  Dit was ‘n praktiese kampterrein met baie aktiwiteite en is goed toegerus vir ‘n streekskamp.  Die dae is voluit benut met verskillende groep- en individuele aktiwiteite binne en buite.  Die leerlinge is in ses groepe opgedeel.  Die groepe het roteer om deur die loop van die naweek aan alles deel te neem.  Almal het elke oggend vroeg opgestaan en vyfster-maaltye het genoeg energie verskaf om die dag ten volle te benut.  Die aand-aktiwiteite het die volgende behels:  Samesang en ‘n kampkonsert, waar elke groep sy eie opvoering moes uitdink en na ‘n paar minute moes opvoer.  ‘n Omgewingspraatjie was van Hogsback se geskiedenis en die natuurlewe.  “Night Hike-Exotic” en “Night Hike Indigenous” was nagstappe deur die woud langs stappaadjies. 

Net rooi ligte is gebruik sodat die stappers se oë aan nagvisie gewoond kon raak.  Die dag-aktiwiteite het die volgende behels:  Madonna & Child Hike en Kettle Sprout-waterval was besonderse watervalle om te sien tydens ‘n avontuurlike staptog deur digte plante en bome.

Die natuurprojek het die uitroei van die “Black Wattle” behels wat uitheemse bome is en groot gedeeltes van die inheemse woude in Suid-Afrika oorweldig.  Die kinders het in die area waarin hulle beweeg het, die klein boompies uitgetrek en groter bome afgekap.

Interessante handvaardigheid aktwiteite oor selfgemaakte, kleurvolle krale uit Ghana is aangebied.  Elke meisie het m.b.v. eie kreatiwiteit haar eie hangertjie geryg. 

Die seuns het lyfbande van leer gemaak en hul kreatiwiteit gebruik om woorde, ens. daarop te graver.

Tydens Groep dinamika en Interne Oriëntering moes die leerlinge in groepsverband probleemoplossing in praktiese situasies toepas.  Nog buite-aktiwiteite soos “Abseiling”, “Zipwire”, “Climbing wall”, “High Ropes Course” en “Middle Rope Course” het definitief die leerlinge in groepsverband goed laat saamwerk en so ook binne hulself intrinsieke hoogtes laat bereik.

Baie geluk aan Rigard de Scande en Marnel van Heerden wat vir Nasionaal Landsdiens gekeur is.   Dankie aan al die leerlinge wat saamgegaan en die Landsdiensvisie by die kamp toegepas en uitgeleef het. 

Baie dankie aan mnr Piet Swanepoel wat ons vergesel het en die bus bestuur het en juf. Riana Verster wat die Laerskoolgroep vergesel het, asook juf. Rozanne en juf. Sam vir al die voorafreëlings.

 

Laerskool Landsdiens samel saam met KANSA geld in

Soos almal weet, is Oktobermaand Kanker-bewustheidsmaand. 

Laerskool Burgersdorp Landsdiens het die geleentheid aangegryp om só geld in te samel deur Kansa se pienk lap te verkoop. 

Ons sê baie dankie vir almal wat ons en Kansa ondersteun het. 

Deel van die wins sal gebruik word om ons twee Landsdiens verteenwoordigers by die Nasionale Kamp, finansieel te ondersteun.

 

 

1 2 3 14